DIE ONTSTAANS-, STIGTINGS- EN ONTWIKKELINGSGESKIEDENIS VAN DIE LAERSKOOL NIKO BRUMMER, BEAUFORT-WES

1. INLEIDING

Die stigting van die Laerskool Niko Brummer in 1954 het ‘n lang aanloop gehad en dateer sedert die ontstaan van onderwys te Beaufort-Wes in 1836.  Om onderwys te Niko Brummer in perspektief te sien, moet dit teen hierdie breë agtergrond gesien word.

2. ONTSTAANSGESKIEDENIS

2.1 DIE EERSTE GOEWERMENTSKOOL

Die oprigting van goewermentskole met Engelssprekende onderwysers dwarsdeur die Kolonie, was die gevolg van Brittanje se beleid van verengelsing.  Die kerkie wat in 1820, net oorkant die wapad gebou is, het die eerste goewermentskool in Beaufort-Wes geword.  J.G. Fivaz is op 16 Desember 1836 aangestel, maar in April 1837 bedank hy – moontlik op grond van swak besoldiging.  Op 13 Junie het die inwoners op ‘n openbare vergadering besluit om ‘n minimum salaris van ₤81.5s per jaar vir die goewermentsonderwyser te waarborg.  Verder is besluit  dat slegs een kind per huisgesin in die skool toegelaat sal word. Lewis Fivaz doen in Augustus aansoek as onderwyser.  Blykbaar het die goewerment ook ‘n woonhuis beskikbaar gestel, want op 27 November 1841 het die magistraat in ‘n brief aan die koloniale kantoor, gekla dat die skool en die onderwyserswoning in ‘n treurige toestand is.

2.2 DIE TWEEDE GOEWERMENTSKOOL

Gedurende die Groot Trek het ‘n konsistorie van ‘n gewese sendingkerk in Donkinstraat die tweede goewermentskool geword.  Op 25 September 1838 is William Thompson vir ‘n proeftydperk van ses maande aangestel.  Magistraat Meintjies het hom in die veertigerjare beywer vir ‘n nuwe skoolgebou.  Eers teen ongeveer 1864 is die goewermentskool gesluit.

3. DIE BOY’S GRAMMAR SCHOOL

In 1864 rig A. Cormack ‘n “oefeninghuis” op erf 14 in Kerkstraat op.  Aanvanklik dien dit as dagskool vir Kleurlingkinders.  Nadat dit vergroot is, het dit in Oktober 1865 die eerste seunskool geword.  George Mac Conachie word die eerste hoof van hierdie goewermentskool.

4. DIE GIRL’S PUBLIC SCHOOL

Die goewerment het nou ook ‘n meisieskool op erf 14 beplan.  ‘n Klipgebou is teenaan die voorkant van die oorspronklike deel van die seunskool opgerig.  Op 10 Oktober 1879 is dit deur professor Hofmeyr van Stellenbosch geopen.  Dit kom voor dat dit aanvanklik net as saal vir die seunskool gebruik is, want eers op 15 Julie 1891 is die Girl’s Public School geopen.

5. DIE BOY’S HIGH SCHOOL

Namate die Boy’s Grammar School feitlik deur die Girl’s Public School verdring is, het die skoolkomitee ‘n perseel begin soek om ‘n nuwe seunskool op te rig.  In Augustus 1896 is die terrein tussen die Gamkarivier en die ou spoorwegstasie van die dorpsraad aangekoop.  Dr. Thomas Muir, hoof van die Onderwysdepartement, open die Boy’s High School op 1 Februarie 1898.  Toe die gemengde Central High School in 1926 daar naby geopen is, het dit ‘n laerskool geword.

5. DIE BOY’S PRIMARY SCHOOL / JONGENS PRIMêR SKOOL

Toe die gemengde Central High School of Hoërskool Sentraal in Januarie 1926 daar naby gestig is, het die ou klipgebou ‘n laerskool geword met die naam Boy’s Primary School of Jongens Primêreskool.  Barend P. Booysens gebore 11-07-1911 was die eerste leerling wat in 29 Januarie 1923 ingeskryf is.  Hierdie skool se eerste hoof was ene Naudè. 

6. DIE SKOOLRAAD

Weens die verwarring wat al die goewermentskole, kerkskole en private skole in die vorige eeu veroorsaak het, is ‘n Beaufortwes Munisipale Skoolraad op 7 Maart 1906 in die lewe geroep.  Die Meisieskool in Kerkstraat en die meisieskool by die stasie sou onder andere onder beheer van die Skoolraad staan.  Die Munisipale skoolrade is in 1912 vervang deur distrikskoolrade wat ook alle plaasskole sou bedien.

7. STIGTINGSGESKIEDENIS VAN DIE LAERSKOOL NIKO BRUMMER

Vanaf ongeveer 1925 het die Girl’s Public School uit sy nate begin bars.  Vir sommige klasse moes die kinders na die seunskool by die stasie stap.  Die dogters se speelgrond was so groot soos ‘n tennisbaan, terwyl die seuns by die laerskool by die stasie aan keel- en borskwale gely het.  Nadat die 8 178ste kind op  13 Oktober 1952 by die Girl’s Public School  ingeskryf is, is op samesmelting met die seunskool besluit.  Dit het in Januarie 1954 ‘n voldonge feit geword toe die twee skole saamgesmelt het tot die Laerskool Beaufort-Wes.

8. DIE NUWE SKOOLGEBOU WORD BETREK

Die bou van die nuwe hoër-en laerskool in Hospitaalheuwel is ‘n storie wat begin in 1940 en eindig met die gesamentlike inwyding daarvan op 7 September 1956. 

In 1940 word die eerste ooswaartse uitbreiding van die dorp tot by die huidige Hattinghstraat goedgekeur en in 1945 reserveer die munisipaliteit die huidige twee skoolterreine vir die bou van ‘n hoër-en laerskool ( erf nr. 63 ). In Maart 1947 word onderwystoestande in Beaufort-Wes ondersoek deur ‘n Departementele kommissie en eers in April 1949 word erf nr. 63 uiteindelik aan die Onderwystrustees oorgedra. Op 12 Februarie 1951 besoek die argitekte Black en Fagg Beaufort-Wes en ontmoet lede van die skoolraad op die nuwe skoolterrein. Op 21 Mei 1952 rapporteer die stadsklerk dat die Munisipaliteit die bouwerk aan die twee skole sal onderneem teen Provinsiale Administrasie se aanbod van koste plus 3 persent. 

Die nuwe skoolkoshuis, Huis Nieuweveld, word terselfdertyd opgerig en op 7 Mei 1954 geopen. In verband met die bou van die hoër-en laerskool was daar baie moeilikhede om te bowe te kom. Op 22 Julie 1954 stuur die skoolraad die volgende telegram aan die Minister van Vervoer, P.O. Sauer: “Bou van skole staan doodstil. Spoorweë kan nie sement aflewer nie. U vriendelike hulp dringend nodig.” ‘n Plan is gemaak en sement het gekom. Kort daarna moes die Munisipaliteit weer twee vragmotors stuur om sement in die Boland te gaan haal. 

Na veel swoeg en sweet en swets was die twee skoolgeboue eindelik klaar en kon voorbereidings getref word vir die verhuising van die Laerskool Beaufort-Wes vanaf die ou skoolgebou by die stasie tot by die splinternuwe gebou in Hospitaalheuwel.

ONTWIKKELINGSGESKIEDENIS VAN DIE LAERSKOOL NIKO BRUMMER:

1954 – 2014

1. S.J. Scheepers 1934-1966

S.J. Scheepers (Oom Schippie) van die seunskool is bevorder tot hoof van die nuwe gemengde skool.  Die skoolkomitee wat op 2 Maart 1954 vir die volgende drie jaar verkies is, was ds. J.A.C. Weideman, mnre. V. de Villiers, S. de Villiers, G. Pienaar en P.W. Esterhuizen Junior.  In 1956 het die skool na die nuwe gebou in Hospitaalheuwel verhuis.  Mnr. A.C. Theron wat 34 jaar lank op Beaufort-Wes onderwys gegee het, was een van 

die assistente en het in 1978 met pensioen uit diens getree.  Mnr. Theron het ‘n groot bydrae gelewer in die ontwikkeling van die nuwe sportgronde.  In sy inspeksieverslag van 15 – 26 April 1957 berig inspekteur P.B.A. Beukes soos volg: “Die skoolgronde wat feitlik ‘n woesterny was, neem ook al vorm aan.” 

1.1 Naamsverandering

Op 21 Junie 1961 is deur die Departement van Onderwys magtiging verleen dat die naam van die Laerskool Beaufort-Wes na die Laerskool Niko Brummer verander mag word.  Die skool is so vernoem ter ere van die destydse Burgemeester, dr. Niko Brummer. As voorsitter van die skoolkomitee het hy hom ook destyds saam met S.J. Scheepers beywer vir die verkryging van ‘n nuwe skool.  

1.2 Die S.J. Scheepers-saal

Onder leiding van Mnr. Scheepers het Niko Brummer jare lank fondse ingesamel vir ‘n eie skoolsaal.  Na ‘n uitgerekte stryd het die Departement uiteindelik geld bewillig vir hierdie ideaal.  Op 23 Februarie 1962 is die S.J.Scheepers-saal in gebruik geneem.  By hierdie geleentheid is die nuwe skoollied wat geskryf is deur I.D. Du Plessis vir die eerste keer vir die publiek gesing.  Die skoollied is deur Gerhardus Koornhof getoonset.

1.3 Skoolbus

Ook met die aanskaf van ‘n eie skoolbus het S.J. Scheepers die voortou geneem.  Op 22 April 1966 is ‘n luukse bus van R 8 000  ten volle betaal, gelisensieer en verseker in ontvangs geneem.  Hierdie eerste skoolbus van Beaufort-Wes het in Junie 1966 sy eerste reis van 9 600 km deur die destydse Rhodesië en Malawi onderneem.  Die toer is in samewerking met mnr. Ian Smith, destydse Premier en drie van sy ministers beplan

1.4 S.J. Scheepers tree uit

S.J. Scheepers was vanaf September 1966 tot Junie 1967 op siekteverlof. Gedurende Junie 1967 bedank hy op die dokter se aanbeveling na 42 jaar in die onderwys en 32 jaar as skoolhoof op Beaufort-Wes.  Mnr. Awie Theron neem waar totdat die volgende hoof diens aanvaar.  

2. W.A.S. Basson: 1 Oktober 1967 – 31 Maart 1972

W.A.S. Basson van die Volkskool op Graaff-Reinet het op 1 Oktober 1967 die nuwe hoof geword.  Om meer leerlinge by atletiek te betrek, het hy die leerlinge in groepe verdeel.  Plekke 1, 2, 3 en 4 kon by groep A, B, C en D van dieselfde ouderdomsgroep behaal word.  Tennisbane en dwergtennisbane is aangebou en omhein.

3. C.G. Engelbrecht: 1 Julie 1972 – 16 Februarie 1983

C.G. Engelbrecht van die Laerskool Susannah Fourie van Despatch, is as nuwe hoof benoem.  As gevolg van vervoerprobleme en die brandstofsituasie, het hy dadelik sy aandag gegee aan die aankoop van ‘n klein bussie.  Daarna is fondse ingesamel met die spesifieke doel om die skoolsaal van doeltreffende gordyne te voorsien.  Bioskoopvertonings kon hierna hier aangebied word.  Hierna is die kantoor van ‘n mat en nuwe gordyne voorsien.

‘n Kopieermasjien van R4 000 is in 1977 vir die skool aangekoop.  Planne vir omskeppings by Niko Brummer is opgestel en goedgekeur, maar sou eers later jare ‘n werklikheid word.  ‘n Standaard rugbyveld vir laerskole is langs die bestaande een ontwikkel.  Gedurende 1978 is ‘n gras atletiekbaan om die rugbyveld aangebou.  ‘n Telbord en verplaasbare pawiljoen is aangebring.

4. C.P. Visser: Junie 1983 – Desember 1986

Mnr. Charles Visser, adjunkhoof van die Laerskool Vredenburg, Het mnr. Engelbrecht opgevolg.  Tydens sy dienstydperk is ‘n Ouer- Onderwysersvereniging in die lewe geroep en 5 Spectrum-rekenaars is aangekoop.(Hierdie rekenaars se skerms was 34″ swart en wit TV-monitors)  Klasse is na skool aan belangstellende leerlinge aangebied.  Die blou skoolbussie is ook aangekoop.  Gedurende September 1984 tref ‘n gevoelige slag Laerskool \Niko Brummer toe die vleuel langs Hattinghstraat afbrand en nege klaskamers verwoes word.

  Aan die einde van 1986 aanvaar mnr. Visser ‘n hoofpos aan die Laerskool Stulting in Humansdorp.

5. C.W. Nel: Januarie 1987 – Desember 1988

Mnr. Christo Nel, adjunkhoof van die Laerskool Park in Mosselbaai, word as die nuwe skoolhoof benoem.  Gedurende 1987 word ‘n klaskamer as personeelkamer omskep en ‘n busfonds word in die lewe geroep om die 1966 Ford te vervang.  Met onder andere ‘n jagkompetisie word die mooi bedrag van R14 000 ingesamel.  Die grootste kopseer van Mnr. Nel se dienstydperk was egter die tendens van dalende leerlinggetalle en die noodwendige gepaardgaande personeelvermindering.  Aan die einde van 1988 aanvaar mnr. Nel hoofskap by die Laerskool Koos Sadie  in Goodwood.

6. G.S. Kamfer: Januarie 1989 – Desember 1993

Mnr. Tollie Kamfer adjunkhoof van Laerskool H.F. Verword in Kimberley en ‘n oudonderwyser van Niko Brummer, word aangestel as die nuwe hoof.  In sy tyd word ‘n krieketblad op die rugbyveld aangelê en ‘n tweedehandse Mercedes skoolbus word by die Onderwyserkollege  Oudtshoorn  op  ‘n  veiling  gekoop vir  R80 000.  Ligte word om die skool, wat al vir baie jare ‘n groot behoefte was, aangebring en die langverwagte verbeteringe aan die administratiewe blok word aangebring.  Hierdie veranderinge sluit ‘n personeelkamer, ‘n departementshoofkantoor, instapkluis en ‘n vergrote kantorekompleks in.  

Aan die einde van 1990 word ses XT-rekenaars met EGA-skerms en twee drukkers aangekoop teen ongeveer  R22 000 en ‘n rekenaarlokaal word ingerig.  Daar word elke week twee periodes aan elke klas toegeken om sodoende die leerlinge van Niko Brummer voor te berei vir die kommunikasie-eeu. 

Dit is ook in mnr. Kamfer se tyd wat groot verwikkelinge in die onderwys begin plaasvind en die Laerskool Niko Brummer word gedurende 1992 ‘n Model C-skool en die Bestuursliggaam kry volle seggenskap oor die geboue en inhoud van die skool.  Na deeglike oorweging word ‘n nuwe skoolsweetpak in gebruik geneem wat ook in die skool gedra mag word.  Aan die einde van 1993 aanvaar mnr. Kamfer die hoofskap by Laerskool Worcester-Noord.

7 J.J. Taylor: Junie 1994 – Desember 2014

Die Laerskool Eric Louw word aan die einde van 1993 gesluit en in Januarie 1994, onder die waarnemende hoofskap van mnr. Josey Olivier word die skool geamalgameer met die Laerskool  Niko Brummer.  Die amalgamasie verloop besonder glad en sommer gou was die onderwysers en leerlinge deel van Niko Brummer.  Die leerlingtal het nou opgeskuif na ongeveer 300 leerlinge.  Dit was ook gedurende hierdie tyd wat ‘n klaskamer omskep word in ‘n volwaardige biblioteek wat ook vir baie jare ‘n groot behoefte was in die skool.  

Gedurende Julie 1994 aanvaar mnr. Jurie Taylor, adjunkhoof van Laerskool Walvisbaai, die hoofskap.  Dit was dan ook in sy tyd wat onderwys ‘n hele omwenteling ondergaan en rasionalisasie is aan die orde van die dag met gepaardgaande onderwyserverminderings.

In daardie selfde jaar is daar begin met die Soek ‘n Vind-advertensieblad  wat vir baie jare wat kom ‘n gereëlde inkomste aan die skool sou verseker. Aan die begin van 1996 word die Izuzu skoolbussie verkoop en ‘n nuwe Fordbussie word aangekoop.   Die krieketnette word ook gedurende die jaar opgegradeer en ‘n verdere twee nette wat die totaal op vyf te staan bring word netjies met net omhein. Dit is ook in hierdie jaar wat die klein rugbyveldjie vol olyfbome geplant word.  Die Bestuursliggaam neem hierdie besluit om ‘n ekstra inkomste te genereer nadat die Departement se toekenning aan die skool drasties verminder het.

Gedurende die tweede helfte van 1997 word die nuwe skolewet in werking gestel en Model-C-skole word deur staatskole vervang.  Nuwe Beheerrade word verkies.  Vir die eerste keer word die onderwysers sowel as die nie-doserende personeel in die beheerraad verteenwoordig.

Gedurende Junie 1997 word die Rekenaarkamer aansienlik uitgebrei en word ‘n netwerk geïnstalleer.  Vyf en twintig rekenaars word in ‘n netwerk geskakel.  Daar word ook by die Wes-Kaap Skolenetwerk ingeskakel en elektroniese pos word vir Niko Brummer ‘n werklikheid.  Aan die begin van 1998 word die skool ook deel van die ‘globale dorp’ en kry die skool sy eie webbladsy onder die bekwame leiding van mnr. Jan Vermeulen.  

Nog ‘n ideaal word aan die begin van 1999 verwesenlik as daar begin word met die bou van die Jurie Taylor-klubhuis. In 2005 word die klubhuis vergroot en in 2007 word ‘n stoorkamer aan die agterkant gebou.

In 2003 word Beaufort Olives (bestaande uit Hoërskool Sentraal 50% aandeel en Primêre Skool Niko Brummer en Voorbereidende Skool 25% elk) in die lewe geroep en word ‘n olyfpers uit Italië ingevoer.  Gedurende 2004 word die ou groot Mercedesbus verkoop en word ‘n 23-sitplek Mercedesbus aangekoop. Mettertyd sou nog ‘n klein Toyota-bussie aangekoop word. En in 2009 word nog ‘n busstoor gebou sodat die twee klein bussies ook veilig kon wees.

Ook gedurende 2009 word die rekenaarlokaal opgegradeer, internetpunte in al die klasse geïnstalleer en die eerste van twee interaktiewe witborde word geïnstalleer. Daardie selfde jaar word die rugbyveld onder besproeiing gesit.

Gedurende 2012 word daar begin met die palisade-heining aan die voorkant van die skool en twee afstandbeheerde hekke sou ook die volgende jaar volg.  Die heining aan die oostekant by Hattinghstraat word in 2014 voltooi. 

Aan die einde van 2014 tree mnr. Taylor uit die diens en het hy na 20 jaar by die skool  ‘n enorme bydrae gelewer. 

8. J.M. Olivier:  Jan. 2015 – 

Na die aftrede van mnr. Taylor neem mnr. Josey Olivier aanvanklik waar en word permanent aangestel vanaf 1 April 2016.  Mnr. Olivier het as beginneronderwyser in 1982 diens aanvaar by Niko Brummer en is in 1993 as  Departementhoof aangestel. 

 Gedurende 2015 word gevorder op die e-leerpad en vyf  50” televisies word geïnstalleer in ons klasse.  Twee ekstra klasse aan weerskante van ons gekombineerde Engelse klasse word oopgemaak om onderrig in die klasse te vergemaklik en die afrol-werkkamer word verskuif na die ou houtwerkklas. Twee groter pawiljoene word aan weerskante van die klubhuis in gebruik geneem. 

In 2016 word nog vier televisies in klasse geïnstalleer en aan die begin van 2017 was al die klasse toegerus met televisies. Aan die einde van 2016 word ‘n tydelike Cell C-toring op die skoolgronde naby die krieketnette opgerig.

Aan die begin van 2017 besluit die Beheerliggaam om ‘n groot konstruksie op die hoek van Voortrekker- en Hattinghstraat op te rig om reklameborde te vertoon en daardeur die skoolfonds aan te vul.